Natuur en Geskiedenis langs die Hoogland Kronkelpad
Die Hoogland Kronkelpad in Mpumalanga bied aan natuurliefhebbers ‘n skatkis van natuurwonders en terselfdertyd historiese kosbaarhede om te verken. Voeg hierby die hartlike gasvryheid van Mpumalanga se mense en dit verduidelik waarom hierdie Hoogland Kronkelpad so gewild is by Suid-Afrikaners en besoekers aan ons land.
Die roete sluit die volgende plekke in: Belfast, Elandsvallei, Dullstroom, die Kwenabekken, Lydenburg, Skurweberg, Machadodorp en Waterval-Boven. Die kronkelroete sluit talle uitstaande voetslaanroetes in en dan is daar ook geleenthede vir rotsklim en forel-hengel. Die gebied is ook die habitat van sommige van Suid-Afrika se skaarste voëlsoorte met die bergklowe die habitat van die skouspelagtige swart luiperd. Uit ‘n historiese oogpunt is daar oorblyfsels van die Anglo-Boereoorlog wat insluit forte, artilleriestellings, loopgrawe en grafte van soldate.
Die bykans Alpynse dorpie, Belfast, waar die kronkelroete begin, is onder andere bekend vir forelhengel waar entoesiaste bykans ‘n vars forel vir die tafel gewaarborg word. Die skouspelagtige Rapid Waterval en die onmiddellike omgewing is gesog deur voetslaners en hengelaars. Gedurende die lente is Belfast se beroemde blomplaas met velde vol affodille en tulpe in volle blom ‘n onvergeetlike gesig.
In Dullstroom word netjiese klipwonings langs foreldamme en –strome gevind wat oorloop van hierdie gewilde vissoort, terwyl die hele gebied in die lente omvorm word in ‘n tapisserie van meer as 120 blomspesies in volle blom. Die Verlorenvallei Natuurreservaat is ‘n verklaarde RAMSAR vleiland gebied en is die woonplek van al drie die wêreld se mees bedreigde kraanvoël spesies, naamlik die bloukraanvoël, die mahem (Crowned Crane) en die belkraanvoël.
Die Elandsvallei Bewaringsgebied, wat by die historiese NZASM tonnel naby Waterval-Boven begin, bied aan besoekers verruklike natuurtonele, insluitend die Elandsrivier waterval, die Vyf Boë Brug en die majestueuse loodreg rooi sandsteen rotswande. Die nabygeleë Waterval-Boven en Machadodorp is beide gebou ten tyde van die spoorlyn na Delagoabaai (nou Maputo) en hul strategiese plasing op hierdie roete het aanleiding gegee tot verskeie botsings tussen die Boere en die Britte naby aan die twee dorpe gedurende die Anglo-Boereoorlog.
Die indrukwekkende Skurweberg in Mpumalanga vorm deel van die Drakensbergreeks. Die prehistoriese sandsteen formasies van die Skurweberg word aanvaar as deel van die seebodem in die Godwana tydperk. Die landskap is gespikkel met aalwyne en krom geelhoutbome teen die Skurweberg wat in die gebied die hoogste punt bo seespieël is, en wat dan vinnige daal met die Helskloofpas in die diep vallei van die Elandsvallei wat gekerf is deur die Elandsrivier, die Banspruit en die Komatirivier met hul verskeidenheid donderende watervalle.
Die Kwenabekken bied aan besoekers ‘n veelheid van aktiwiteite, beide op land en op die water van die skilderagtige Kwenadam. Tesame met die verskeidenheid buitenshuise aktiwiteite en asemrowende natuurskoon is daar ook talle interessante plekke om te besoek in Lydenburg soos die Mashishing Dorpsgebied en die Lydenburg Museum waar ‘n verskeidenheid prehistoriese artefakte op uitstalling is.
Die Mpumalanga Hoogland Kronkelpad het veel om aan die besoeker te bied, veral diegene wat na aan die natuur wil wees. Hierdie bestemming is twee uur per motor van Pretoria wat beteken dat Suid-Afrikaners wat moeg is vir die gejaagde lewe in die stad nie ver hoef te reis om te ontspan en die rustigheid te ervaar nie.
Word skeppend met Beadex 2008
Kralewerk word toenemend ‘n gewilde stokperdjie in Suid-Afrika. Sommige kralewerkers maak ‘n bestaan uit hul werk, terwyl ander pragtige kralewerk items net vir die genot daarvan maak. Ongeag in watter kategorie jy val, moet jy verseker Beadex 2008 by die Sandton Konferensiesentrum van 16 tot 18 Maart 2008 bywoon ten einde die kaleidoskoop van krale, dekor, juweliersware, skilderye, veselwerk en vele meer te aanskou.
Draai af verby Loeriesfontein
Loeriesfontein is ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap en is geleë in ‘n groot kom omring deur berge waar Namakwaland, Boesmanland en die Hantam streke mekaar ontmoet. Veral bekend vir sy asemrowende veldblomme in die lente, bied die dorpie ook ‘n hele aantal ander besienswaardighede wat besoekers van heinde en ver lok.
Uitstaande vertonings tydens die Voorkamerfest te Darling
Die skilderagtige dorpie, Darling, by die Weskus is slegs 55 minute reistyd vanaf Kaapstad en is bekend vir sy asemrowende vertoning van veldblomme, uitstaande wynkelders, en ‘n hegte gemeenskap wat ook die kern vorm van die jaarlikse Voorkamerfest. Hierdie gebeurtenis vind vanjaar van 5 tot 7 September plaas.
Wyn en perde in die Wes-Kaap
Die Wes-Kaap bied baie afleiding aan ─ wye oop vlaktes, majestueuse berge, skilderagtige valleie, wingerde en boorde, kleurvolle veldblomme en vele meer. As hierby nog gevoeg word die sondeurdrenkte dae en vriendelike mense is dit duidelik waarom hierdie gebied die eerste keuse as ‘n toerisme bestemming is. Wine Valley Horse Trails wat in die Paarl-gebied gevestig is, bied ‘n interessante wyse om die gebied te verken aangesien dit aan toeriste die geleentheid bied om die natuurskoon ten volle te geniet.
Avitoerisme groei steeds in Suid-Afrika
Suid-Afrika is wêreldbekend vir sy wildlewe en toeriste kom vanuit alle wêrelddele om die talle wildreservate te besoek. Suid-Afrika is egter ook ‘n voëlkyk paradys ─ ‘n feit wat dikwels nie aan die internasionale gemeenskap bekend is nie. Met die aktiewe bemarking van avitoerisme word verwag dat dié toedrag van sake gaan verander soos meer voël-entoesiaste, plaaslik asook van oorsee, die ryke voëllewe van Suid-Afrika begin ontdek.











